Hoof se Boodskap
Hoërskool Marais Viljoen rus op drie pilare: Akademie, Sport en Kultuur. Al drie aktiwiteite is vir ons ewe belangrik en word ook so hanteer. Daarom voel ons dat elke leerder, onafhanklik van sy/haar talente, by ons gelukkig sal wees. Ondersteuning aan ons sport- en kultuurspanne deur ons leerders is vir ons net so belangrik.
Ons het baie hard gewerk aan ons nuwe visie: "LEIER IN VOLLEDIGE OPVOEDING".
Wat beteken dit? By Marais Viljoen werk ons doelgerig om op alle gebiede 'n ware leier in volledige opvoeding te wees. Wat beteken volledige opvoeding? Ons wil ons leerders die geleentheid gee om hulle in totaliteit te ontwikkel en nie net op een gebied nie. Ons wil nie net as bv. 'n netbal-, rugby- of kultuurskool bekend staan nie, maar wil in alles wat ons aanbied, 'n leier wees en daardeur die leerder die geleentheid gee om hom/haar volledig te ontwikkel.
Marais Viljoen het 'n Christelike karakter wat binne 'n bestuurstelsel van dissipline heers. Dissipline op alle gebiede is derhalwe vir ons baie belangrik en daarsonder kan ons nie funksioneer nie. Ons konsentreer ook baie op die netheid van ons leerders, aangesien dit 'n groot deel van dissipline uitmaak.
Ons het toegewyde en kundige personeel wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop. Hulle gee om vir die leerders. Die leerders ervaar dus geborgenheid en is gelukkig. Gelukkige leerders is vir ons belangrik!!
U sal sien dat ons 'n besondere mooi terrein het waarop ons trots is en waaraan ons hard werk.
Ons voel dat prestasie belangrik is, maar nie ten alle koste nie. Saam met prestasie is die blote deelname van ons leerders vir ons net so belangrik.
Ons wil 'n gelukkige, gebalanseerde en goed toegeruste mens die toekoms instuur!
Goed, Beter, Marais Viljoen!!


