Ons SKool

Alles begin hier. ’n Nuwe reis, ’n vars begin. 

Stap saam en beleef die hoërskoolreis van ’n Marais Viljoener.

MARAIS VILJOEN

'n Trotse instelling

As ’n Vilgroentjie stap jy in met ’n leë rugsak, maar van die eerste oomblik af is jy deel van die Marais Viljoen-familie. Alles begin die oomblik wanneer jy besef: ‘Ek is tuis.’

Hier bou elke leerder herinneringe wat vir altyd sal hou. Hier begin jy droom en jy leer hoe om daardie drome te verwesenlik.

By Marais Viljoen is ons trots op ons vier sterk pilare: Akademie, Kultuur, Sport en Sosiaal.

Reeds sedert 1961 skep ons skool ’n veilige tuiste vir die vorming van gebalanseerde, goed toegeruste jong volwassenes. Elke wenner het ’n stewige fondament nodig om op te bou, ’n afspringplek wat jou vir die toekoms voorberei. Hier gee ons jou geleenthede, leiding en ondersteuning om jou volle potensiaal te bereik. Die pad na sukses word gebou op harde werk en vriendskappe wat ’n leeftyd hou.

Hier glo ons in holistiese opvoeding, ’n balans tussen akademie, sport, kultuur en sosiale lewe, sodat elke leerder die geleentheid het om te floreer.

Ons GESKIEDENIS

Hoërskool Marais Viljoen is ’n openbare, dubbel-medium hoërskool wat in Alberton in die Gauteng-provinsie van Suid-Afrika geleë is.

Ons skool is bekend as dié top akademiese, sport en kultuur skool in die distrik en het oor baie jare ’n sterk reputasie van uitnemendheid opgebou.

Hoërskool Marais Viljoen is vernoem na die voormalige Staatspresident en LP vir Alberton, Marais Viljoen. Hy het die skool amptelik op 1 September 1961 geopen.

Mnr. Piet Myburgh is aangestel as die eerste skoolhoof. Hy is in 1979 opgevolg deur mnr. Philip Fouché.

Mnr. Fouché het in 1989 afgetree en is opgevolg deur mnr. Hannes le Roux, wat vanaf April 1989 tot Maart 2004 as hoof gedien het. In April 2004 is mev. Martie Heystek as waarnemende hoof aangestel, en op 1 Januarie 2005 is sy amptelik as skoolhoof van Hoërskool Marais Viljoen aangestel.

Mev. Heystek het in 2022 afgetree en word opgevolg deur Dr. Johlet Krause wat amptelik vanaf  1 Mei 2023 as hoof aangestel is. 

Die skool het oorspronklik as ’n tegniese en beroepsgerigte skool begin. In 1979 is die beroepskomponent uitgefaseer, waarna Marais Viljoen ’n breër akademiese rigting ingeslaan het met ’n verskeidenheid vakke binne tegniese, wetenskaplike en algemene studierigtings.

Met die uitbreiding van die vakkeuses is daar in 1995 besluit dat Marais Viljoen Tegnieseskool voortaan as Hoërskool Marais Viljoen bekend sou staan.

Hoërskool Marais Viljoen is ’n dinamiese skool met ’n sterk fokus op sport, akademie en kultuur, en lewer jaar na jaar uitmuntende prestasies op alle terreine.